Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 30 NOVEMBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons die afsterwe moet aankondig van Eddie Smuts, ZS6BZN, in die rype ouderdom van 90jaar. Edie was een van die eerste lede wat by die Kempton Park Amateur Radio Tegniese Vereeniging aangesluit het. Eddie was ook baie jare lid van die SARL gewees.

Ons innigste meegevoel gaan aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SATELLIET-QSO TUSSEN SUID-AFRIKA EN BRAZIL

NOMINASIES VIR RAADSLEDE

ETIEK EN BEDINGINGSPROSEDURE VIR RADIOAMATEURS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SATELLIET-QSO TUSSEN SUID-AFRIKA EN BRAZIL

Na verskeie probeerslae het Keith Laaks, ZSTW, daarin geslaag om via AO-7 in modus B, met ‘n Suid-Amerikaanse stasie kontak te maak.

Keith het op Vrydagaand 28 November ‘n QSO gevoer met Angelo, PY1UNU. Seine was in beide rigtings baie goed, maar soos gewoonlik ‘n hoërige geraasvlak van die satelliet.

Hulle QSO het ‘n goeie 4 minute en 20 sekondes geduur, feitlik die volle duurte van die gemeenskaplike venster. Die elevasie aan die begin van die QSO was ongeveer 5 grade en die totale distansie tussen Keith en PY1UNU in GG6GX is ongeveer 7 155 km.

Besoek www.sarl.org.za om na ‘n opname van die QSO te luister.

Keith het SARL-nuus meegedeel dat daar verskeie ander stasies in Brazil is wat moontlik ‘aktief’ kan raak tydens verbyvlugte wanneer hulle en ons in die satelliet se voetspoor ingesluit word. “Die Kaapse stasies het ‘n baie langer venstertyd na Suid-Amerika en dit behoort vir hulle moontlik te wees om met meer lande in daardie rigting kontak te kan maak”, het Keith gesê. Baie geluk aan Keith.

PRESIDENTSNET VANAAND OM 19:30

Sluit vanaand om 19:30 op die Presidentsnet aan by Rassie Erasmus en Dennis Green vir terugvoering aangaande die pas afgelope IARU se Streek 1 Konferensie wat in Kroasië gehou is. Klubs wat hulle herhalers aan die net wil koppel kan dit doen deur voor 10:00 vanoggend ‘n versoek per e-pos te stuur aan armi@sarl.org.za.

RADIO ZS BINNEKORT IN DIE POS, MAAR NIE VIR ALMAL NIE

Die November-/Desemberuitgawe sal binnekort gepos word, maar nie aan almal nie. Indien u nognie u ledegeld vir 2008/2009, wat voor 1 Julie 2008 betaalbaar was nie, betaal het nie, is u naam reeds van die ledelys verwyder. Indien u nie hierdie uitgawe van Radio ZS wil misloop nie, tref asb. Reelings om u ledegeld te betaal. Telefoneer vir Vee Antal Maandag tussen 09:00 en 13:00 by 011 675 2393.

NOMINASIES VIR RAADSLEDE

Nominasies vir lede vir die SARL-Raad kan nog tot middernag vannag ingedien word.

Tydens die Algemene Jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Radiolige tree al die dienende Raadslede uit en moet ‘n nuwe Raad verkies word. Huidige dienende Raadslede mag herkies word indien hulle genomineer word. ‘n Tyd gelede is kennis gegee dat nominasies ingewag word.

Nominasies moet skriftelik aan die Sekretaris ingedien word, en moet onderteken wees deur ‘n voorsteller en sekondant, wat beide eerbare lede van die SARL moet wees. Die dokument moet besonderhede van die besondere kwalifikasies en bekwaamhede en lidmaatskap van verwante amateurradio-organisasies van die benoemde insluit. Die volle name, roepsein en adres van die genomineerde moet verskaf word, tesame met ‘n verklaring deur die genomineerde dat hy of sy bereid sal wees om op die Raad te dien

Nominasies moet die sekretaris nie later nie as middernag vannag, 30 November, bereik nieen kan gefaks word na 088 011 675 2793 of ondertekende dokumente kan geskandeer en per e-pos gestuur word aan secretary@sarl.org.za.

ETIEK EN BEDINGINGSPROSEDURE VIR RADIOAMATEURS

'n Spesiale werkswinkel is tydens die IARU Streek 1 konferensie in Kroasië gehou oor die publikasie "Etiek en Bedieningsprosedures vir Radioamateurs" deur John, ON4UN, en Mark, ON4WW. Die konferensie het 'n besluit geneem om ledeverenigings aan te moedig om die boekie te gebruik vir die opleiding van nuwe as ook gelisensieerde radioamateurs ten opsigte van goeie bedingingsprosedures. Die outeurs het toestemming gegee dat die boekie beskikbaar gestel mag word op ledeverenigings se webwerwe en dat dit vertaal mag word in die taal van die vereniging. Eersdaags sal die boekie in amper 40 tale beskikbaar wees.

Dennis, ZS4BS, wil graag weet of daar belangstelling is om die boekie in Afrikaans beskikbaar te stel. Dennis kan die Engelse boekie in MSWord-formaat beskikbaar stel met die Nederlandse en Franse weergawes in PDF-formaat. As daar belangstelling is, kontak asseblief vir Dennis by e-pos zs4bs@netactive.co.za

KLUBNUUS

Die 40 meter baken, ZS1AGI/B, is terug op die lug op 7,025 MHz. Kraguitset is 0,2 Watt. Die baken was voorheen by die George Lughawe, maar is nou verplaas na die QTH van Saney, ZR1S, te Wildernishoogte, ongeveer 15 km Noord-Oos van die ou standplaas. Meer inligting aangaande die baken kan gelees word op die SARL Tegniese Forum. Die lisensie is in die naam van die Tuinroete Radioklub.

KOMPETISIENUUS

KORREKTE DATUM VIR PEARS HF-QSO-GESELLIGHEID

Die jaarlikse Port Elizabeth Amateurradio-geselligheid is geskeduleer vir Sondag 7 Desember, en nie 14 Desember soos in verlede week se bulletin berig nie, van 12:00 tot 16:00 UTC (14:00 tot 18:00 SAT). Dit is 'n ESB-kompetisie en die volgende frekwensies is van toepassing - 80 meter:: 3,603 tot 3,650 en 3,700 tot 3,800 MHz en 40 meter: 7,043 tot 7,100 MHz. Daar is 4 inskrywingskategorieë:

Beginners - stasies in Suid-Afrika met 'n ZU-roepsein;
Beperk - ZR-stasies in Suid-Afrika;
Onbeperk - ZS-stasies in Suid-Afrika, en
DX - stasies buite Suid-Afrika se grense.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal stil wees tot 3 Desember waarna dit aktief sal word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf onderskeidelik 14:00 en 18:00 SAT na Indië.

15 m-kontakte met Nieu-Zeeland gaan vir 'n kort rukkie om 08:00 moontlik wees. Om 14:00 is daar moontlike flou 20 m openinge na Australië. Swak kontakte met Peru is om 14:00 op 15 m moontlik waarna swak openinge op 20 m moontlik word. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 12:00 gewerk word en op 20 m vanaf 18:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike swak 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m om 20:00 moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en statiese geraas bietjie uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

30 November - Nominasies vir raadslede moet in wees;
30 November - Databasis van herhalers moet op datum wees;
30 November –Vanaand – President se net aangaande IARU-konferensie;
7 Desember – PEARS HF QSO-geselligheid;
31 Januarie 2009 - Mosies en agenda-items vir di SARL 2009 AJV moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003